Show

Theuns Jordaan

Price

R 160.00

Date & Time

26/10/2017 20:00

Available Seats

16
Theuns Jordaan is sonder twyfel een van die grootste stemme wat Afrikaans nog opgelewer het. Met vyf solo-albums en verkope van meer as 1 miljoen, het hy bewys dat hy nie net 'n sanger van formaat is nie, maar ook 'n baie talentvolle liedjieskrywer.
Sy nuwe album, Roeper, wat in Mei 2012 bekendgestel is, se verkope is reeds by die 100 000-merk verby. Dit was die grootste plaaslike vrystelling van die jaar. Sy tweede samewerking met Juanita du Plessis, Hart Vol Drome, was eweneens ’n reuse sukses met die DVD én CD wat platinumstatus behaal het.
Theuns se eerste album, Vreemde Stad, is in 2000 vrygestel en is die suksesvolste debuutalbum ooit in Afrikaans met verkope van meer as 200 000. Sy tweede album, Tjailatyd, het ook meer as 200 000 verkope behaal en sy derde album, Seisoen, se verkope is reeds verby 100 000. Sy Grootste Treffers-album was een van 2007 se suksesverhale met verkope van meer as 90 000. Koue Vuur, die album waarop Theuns die musiek van Koos du Plessis sing, was eweneens `n treffer by aanhangers met weereens verkope van meer as 100 000. Sy vyfde album, Roeper, is die grootste verkoper van 2012 met verkope van ook oor die 130 000! Hierdie uitsonderlike verkoopsyfers besorg aan Theuns die hoogste gemiddelde verkope per album in die land.
As sanger het Theuns oor die jare bekend geword vir die gemak waarmee hy gehore vermaak. Van sagte ballades en liefdesliedjies tot op-en-wakker deuntjies wat mense op hulle stoele laat dans. Een ding is seker - Theuns weet net hoe!
Hy is ook nie net 'n uitstekende vertolker van sy eie werk nie. Wanneer hy die musiek van kunstenaars soos Koos du Plessis, Johannes Kerkorrel of Koos Kombuis sing, bring hy daardie liedjies met sy eiesoortige styl na waarderende gehore. Met sy weergawe van Beautiful in Beaufort-Wes het hy Suid-Afrika voorgestel aan die liedjieskrywer Gert Vlok Nel en as dit nie vir Theuns was nie, het die meeste Suid-Afrikaners nooit op Loslappie gejol nie.
Theuns se samewerking met Anton L'Amour is een van die sterkstes in Afrikaanse musiek. Anton is nie net een van die land se beste kitaarspelers nie, hy het homself ook al bewys as 'n talentvolle musiekregisseur. Wanneer Theuns en Anton saam op 'n verhoog klim, is die gehoor verseker van musiek uit die boonste rakke. Hulle werk uitstekend saam, ken mekaar en vul mekaar aan. Saam is hulle 'n gedugte tweemanskap wat gehore oor die hele land vermaak. 'n Theuns Jordaan-vertoning met Anton L'Amour op die verhoog, is een wat nie misgeloop moet word nie!